Kovsies raap Academia topstudente op

Die Universiteit van die Vrystaat het vir ‘n tweede keer een van Gansbaai Academia se topstudente “opgeraap” – weer eens met ‘n volle studiebeurs. Andisiwe Wulana, Gansbaai Academis se topkandidaat vir 2014, het, net soos haar voorganger, Bianca de Koning (Hoofmeisie 2013), ‘n volle studente-beurs, danksy prof Jonathan Jansen van die Universiteit van die Vrystaat, ontvang.

Bianca studeer tans “BSc Behavioural Genetics” en die slimkop het met sewe onderskeidings haar eerste jaar aan die Universiteit afgesluit. Prof Jansen het gesê dat sy hom nie teleurgestel het nie. Hy het ook gemeld dat sy oor twee spesiale kwaliteite beskik wat van haar ‘n ware Kovsie maak, naamlik dat sy ‘n top akademiese student is en ook aktief by studente-aktiwiteite betrokke is.

Nou het Andisiwe dieselfde geleentheid ontvang. Sy het haar matriek met vyf onderskeidings geslaag, naamlik isiXhosa, Wiskundige Geletterdheid, LO, Rekeningkunde en Besigheidstudies. Nes Bianca, het Andisiwe moeilike omstandighede ervaar, maar nogtans bo almal uitgestyg. Sy is ‘n boorling van die Oos-Kaap, maar het as jong kind saam met haar ouers en drie ander kinders na Masakhane verhuis. Haar pa is die tuinier by die plaaslike gholf-klub en haar ma werk vir die konstruksiemaatskappy wat die nuwe laerskool in Masakhane bou. Sy en haar familie bly in ‘n “shack” met buite toilette en sy het bitter min privaatheid gehad om te studeer. Academia bied gedurende eksamentye studiesessies aan en Andisiwe het sedert graad 11 al die sessies bygewoon.

Andisiwe het besluit om Bcom Rekeningkunde te studeer, aangesien die jong meisie ‘n kop vir syfers het. Sy het van die begin af geweet haar ouers sal haar nie kan help om verder te studeer nie en sy het reeds sedert Gr 8 hard gewerk en ernstig op haar studies gekonsentreer. Sy sê self sy is nie eintlik een vir sport nie, maar het op die Junior Stadsraad gedien en is ook by haar kerk betrokke. Die saggeaarde, nederige meisie het eerstens God bedank vir haar prestasies en mens hoef net ‘n klein rukkie in haar geselskap te verkeer om agter te kom dat sy ‘n toegewyde Christen is. Sy is baie opgewonde oor die vooruitsig van haar studies aan die Universiteit en om die skool se leuse uit te leef – Sprei jou Vlerke – aldus die ganse op die skoolwapen.

Met Bianca en Andisiwe as voorbeelde kan ander leerders sien dat harde werk beloon word. Dit kring ook uit na die gemeenskap, aangesien almal van Academia se topleerders verwys en dit het ‘n positiewe uitwerking onder ouers en families wat leerders ondersteun. Leerders kan al van Gr 8 af aangemoedig word tot hoë prestasies – 2015 se Gr 8’s moet juis al Dinsdag, 20 Januarie by die skool aanmeld.

Daar is nou ‘n kosbare verhouding tussen Academia en Kovsies en die skool hoop dat vanjaar se matrieks nie sal teleurstel nie sodat nog potensiële studente opgelewer sal word en Academia se naam tot in die Vrystaat positief sal uitdra. Met die twee meisies se moeilike omstandighede en hindernisse wat hulle in hul kort lewens al moes trotseer, wys dit net weer eens dat jy van jouself maak wat jy is en dat jy kan bo jou persoonlike omstandighede kan uitstyg.

Andisiwe Wulana in haar matriekjaar (2014) in Gansbaai Academia
Close
Andisiwe Wulana in haar matriekjaar (2014) in Gansbaai Academia
 

Comments are closed.